As mens oor die doop begin wonder, dink ek dit mag baie help om die volgende te doen. Dink aan wat ‘n persoon - wat nog nooit Bybel gelees het of in ‘n kerk was of enige Christelike agtergrond het nie – sal lees oor die doop as hy die Bybel vir die eerste keer oopmaak en begin soek daarvoor. Lees dus die verse oor die doop soos dit geskryf staan, en nie met enige interpretasie daarvan in jou agterkop nie.
Die Nuwe Testament was in Grieks geskryf. Hy sal vind dat die Griekse woord vir doop
BAPTIZO is, en as hy dit gaan naslaan, sal hy sien dat dit indompel of
onderdompel beteken.
Hy sal, interessant genoeg, nie een enkele vers vind waar ‘n baba
gedoop word nie. Maar hy sal uitvind dat orals waar daar oor waterdoop gepraat
word, dit volwassenes was wat gedoop is.
Hy sal lees dat die opdrag om te doop nie van mense af kom nie,
maar van Jesus self (Matt 28:19).
Hy sal agterkom dat Jesus nie net die opdrag gegee het nie, maar
dat Hy self vir ons die voorbeeld gestel het van wat Hy daarmee bedoel (Matt
3:15).
Hy sal in Rom 6:4 sien dat die doop ‘n simboliese profetiese aksie
is, m.a.w. dit is ‘n uiterlike simbool van iets wat reeds innerlik plaasgevind
het. Dit beteken dat iemand reeds groot
genoeg moet wees om eers vir Jesus te kies voor hy gedoop word (Hand 2:38); hy
moet eers ‘n dissipel (volgeling) van Jesus wees (Matt 28:19) voordat hy gedoop
word; hy moet eers glo in Jesus (Hand 2:41) voordat hy gedoop word.
Hy sal agterkom dat die doop nie ‘n verbond is nie. Gal
3:7-9 sê dat die wat glo, kinders van Abraham is, en vers 29 sê dat as ons aan
Christus behoort, is ons naklomelinge van Abraham en dus erfgename van die
belofte van God, en dus ingesluit in die verbond van Abraham.
Hy sal lees dat mens die Heilige Gees deur geloof in Jesus ontvang
(Gal 4:6), dit word nie aan baba’s oorgedra met ‘n doophandeling nie.
Hy sal sien dat die kinderdoop nie in die plek van die besnydenis
gekom het nie. Dit word verskriklik sterk beklemtoon in Gal 5:2-3. Lees die woord “kinderdoop” orals in daardie
verse in die plek van “besny” – want as jy glo die kinderdoop is in die plek
van die besnydenis, is hierdie twee begrippe mos dieselfde – dan sal jy sien
hoekom jy nie die kinderdoop as ‘n vervanging van besnydenis moet beskou nie.
Hy sal lees dat die doop jou een met Christus maak (Gal 3:27). Dat jou ou self saam met Jesus begrawe word,
en jou nuwe self saam met Hom weer opstaan uit die water uit (Kol 2:11-13).
Nêrens sal hy lees dat die doop jou red nie. Geen baba word gered omdat hy ‘gedoop’ is
nie; so ook geen grootmens nie. Die doop
is ‘n aksie van gehoorsaamheid – Jesus het gesê ‘doen dit’, dus doen ons
dit. Kyk wat het met Jesus gebeur tydens
Sy doop: Die Heilige Gees het kragtig
oor Hom gekom, Vader God het Hom geseën omdat Hy gehoorsaam was; en Hy is
bemagtig om Sy bediening op aarde te begin.
Net so gebeur dit ook met ons – om onder water gedoop te word is soos om
‘n deur vir die Heilige Gees oop te maak sodat Hy ons geestelike lewe hier op
aarde lewendig en kragtig kan maak.
Ef 4:5 se baie duidelik:
Daar is net één Here, één geloof, één doop. Mens sal ‘n keuse moet maak. Ek het die bekeringsdoop van die Bybel
gekies, omdat die Bybel so duidelik daaroor praat.
Priscilla Koegelenberg
12/05/2022©2022 Copyright All rights reserved P. Koegelenberg
No comments:
Post a Comment
Note: only a member of this blog may post a comment.